Skip to main content

Oor ons

Die Kunssentrum PJ Olivier is ‘n Wes-Kaap Onderwysdepartement instelling waar Skeppende Kuns, Visuele Kuns en Ontwerp, vakke wat deeluitmaak van die Nasionale Kurrikulum vir Grade 7 tot 12, aangebied word. Ons bied ook informele klasse in Kuns aan vir Grade 1-7 leerders.

Geskiedenis

Die Kunssentrum PJ Olivier is in 1953 gestig en vernoem na ‘n voormalige administrateur van die ou Kaapprovinsie. Die Fernbank Villa in Van Riebeeckstraat, was die eerste tuiste van die Kunssentrum wat met slegs ‘n handjievol leerders begin het. In 1967 verskuif die Kunssentrum na sy huidige posisie in Blomstraat op die Braak.

Die gebou waarin die Kunssentrum gevestig is, is ‘n nasionale monument en word beskou as een van die historiese skatte van Stellenbosch. Die oorspronklike enkelverdieping gebou is voor 1817 opgerig, waarna verskeie toevoegings tussen 1880 en 1890 gemaak is om die groeiende Rhenish Instituut te kon huisves. Die Anneksgebou, wat tevore die klaskamers en skoolsaal van die Rhenish Instituut gehuisves het, is in 1905 gebou. Die statige argitektuur en omliggende tuine van die Kunssentrum bied ‘n rustige atmosfeer wat die verbeelding stimuleer en bevorderlik is vir kreatiewe aktiwiteite.

2003 PJO 50 YR ANNIVERSARY

Wat ons doen

Die Kunssentrum PJ Olivier is een van slegs ‘n paar kunssentrums in Suid-Afrika. Gedurende die afgelope dekades is kunssentrums as instellings van uitnemendheid gevestig. Hoë standaarde word deur opvoeders en leerders gehandhaaf. Ons presteer uitmuntend op sowel nasionale as internasionale vlak.

Die Kunssentrum PJ Olivier vorm ‘n integrale deel van die Stellenbosch-gemeenskap aangaande Kunsopvoeding. Daar word toegewyd gestrewe na die lewering van die beste moontlike Kunsopvoeding. Deur geïnspireerde onderrig, harde werk en leierskap oor 50 jaar heen, handhaaf ons ‘n trotse en voortreflike reputasie.

Ons strewe om te fokus op die estetiese opvoeding van die holistiese persoon eerder as net op tegnies georiënteerde ‘opvoeding’ in die produktiewe vaardighede. Dit behels die stimulering en ontwikkeling van die individu se kreatiewe denke, kritiese kapasiteit en visuele geletterdheid wat voorkeur geniet bo die blote ‘voortbring’ van kunswerke wat natuurlik uit die kreatiewe proses vloei.

Ons bedien met trots sowat 16 skole in die groter Stellenbosch- en omliggende omgewings en bied kurrikulêre en buitekurrikulêre kursusse in Visuele Kunste en Ontwerp aan leerders van grade 1 tot 12.

.

Ons Visie

Om inklusiewe Kunsopvoeding aan alle leerders van ons multi-kulturele samelewing te bied en ‘n voorbeeldige en leidende rol te speel ten einde waarde tot mense se lewens toe te voeg.

Ons Missie

Om as ‘n skakel tussen leerders, ouers en die gemeenskap van Stellenbosch te dien.
Om kreatiewe denke en probleemoplossingsvaardighede onder mense te ontwikkel ten einde groter bewustheid van hulself en die omgewing aan te moedig.

Prestasies

Sedert ons ontstaan in 1953 is die Kunssentrum op vele manier vereer vir ons leerders se prestasies. Die Kunssentrum het in 1998 en 1999 die medalje vir die ‘skool’ wat die beste junior skoolkuns gelewer het. Dit was ‘n verering van die Internasionale Uitstalling van Skoolkuns in Lidici in die Tsjeggiese Republiek aan individuele leerders. Ons deelnemende leerders het ook reeds met trots aan verskeie geleenthede en internasionale uitstallings in Spanje, Japan en Noord-Amerika meegedoen.

Ons leerders presteer jaarliks in die Stellenbosch Eisteddfod in beide die Ontwerp en Visuele Kunste kategorieë. Geselekteerde leerders was al die trotse ontvangers van die Nasionale SANAVA Trofee vir Uitnemendheid in Visuele Kunste en Ontwerp.

Matriek prestasies in Visuele Kunste en Ontwerp:

2010— 79 Matrieks—40 kandidate slaag met onderskeiding
2011— 94 Matrieks —41 kandidate slaag met onderskeiding
2012— 79 Matrieks —38 kandidate slaag met onderskeiding
2013— 80 Matrieks —43 kandidate slaag met onderskeiding
2014— 79 Matrieks —43 kandidate slaag met onderskeiding
2015— 65 Matrieks —44 kandidate slaag met onderskeiding
2016 – 72 Matrieks – 39 kandidate slaag met onderskeiding
2017 – 86 Matrieks – 54 kandidate slaag met onderskeiding

Talent is goed. Oefening is beter. Passie is die beste. – Frank Lloyd Wright