Keramiekkuns fokus op die vaardigheid of tegniek waarmee voorwerpe van klei gemaak word. Die basiese vaardighede wat ‘n pottebakker nodig het om keramiekprodukte suksesvol met die hand te bou, verskil nouliks van die vaardighede wat in antieke tye gebruik is. In teenstelling met pottebakkers wat op die wiel werk en vir jare moet oefen om die tegnieke te bemeester, kan handbouers baie vinniger vaardig word met ‘n bietjie oefening en ‘n paar eenvoudige instrumente. Leerders word verder ingelei tot die handboutegnieke, glasuring en vuring van die werk.
Graad 10: Leerders word bekend gestel aan die basiese tegnieke, soos keilwerk, handboutegnieke en die aanwending van kleur en glasuring.
Graad 11: Daar word van leerders verwag om meer onafhanklik te werk met ‘n hoër vlak tegniese vaardigheid en bekwaamheid.
Graad 12: Leerders verfyn hul vaardighede en moet die keramiekmateriaal, -tegnieke en –prosesse bemeester. Hulle ontwikkel oorspronklikheid en bewustheid van die moontlikhede wat hierdie medium bied.
Keramiek kan as Ontwerp of Visuele Kunste beoefen word.
In Keramiek as Ontwerp is die fokus op die skepping van funksionele produkte volgens ‘n spesifieke opdrag met die toepassing van die ontwerpelemente en beginsels as riglyne.
Keramiek as Visuele Kunste is die skepping van drie-dimensionele kunswerke van klei. Idees en temas moet gekonseptualiseer word in die kunswerke. Daar word van leerders verwag om kunswerke te skep wat hul persoonlike interpretasies weerspieël.