Skip to main content

Ydi Coetsee

Ydi Coetsee, voltydse kunstenaar en voormalige leerder by die Kunssentrum PJ Olivier, in haar eie woorde:

Ek glo kuns is ‘n vorm van bemagtiging – dit is die mag om iets uit niks te skep.

Om kuns te studeer was nie maklik nie, maar dit is ‘n ongelooflike geleentheid as jy iemand is wat nuuskierig is oor die wêreld, jouself wil uitdaag en wil leer om krities na dinge te kyk. Dit is ‘n kursus wat jou denke verbreed, en wat baie skryfwerk en teorie behels, so dit help as jy hou van lees (kunsteorie by PJ Olivier het my baie gehelp!).

Kuns het my baie blootstelling gegee tot die filosofieë van ons tyd en perspektief oor ons land en die rol van kultuur gegee.

Na my studies wou ek graag nagraads studeer en het aanvanklik gedink om Engeland toe te gaan. Maar ander deure het vir my oopgegaan en ek het besef ek wil meer kennis en ervaring hê van ander Afrika-lande. Ek het vir 4 maande in Uganda (by Makerere Universiteit in Kampala) studeer as uitruilstudent, waar ek baie geleer het oor myself en oor ons persepsies van Suid-Afrika en die wêreld.

Sedert Januarie 2016 werk ek as vryskut kunstenaar. Ek doen opdragwerk, skryf in vir nasionale kompetisies en word uitgenooi om deel te neem aan groepsuitstallings. Sover het ek nie gesukkel om werk te kry nie, al was dit iets eenvoudig. Op die oomblik kies ek om ‘n skilder te wees, maar ek weet dat daar ander geleenthede is as ek dit sou nodig hê.

Terwyl ek studeer het het ek vir 6 maande as ‘n tutor gewerk by die universiteit (visuele studies tutoriale vir eerstejaarsstudente), en was daarna ‘n biblioteekassistent by die universiteit se nagraadse navorsingsbiblioteek. By my finale Meesters uitstalling is ek raakgesien deur die eienaars van ‘n kontemporêre galery op Stellenbosch en is ek ‘n werk as galeryassistent aangebied. Die jaar by die galery was ‘n ongelooflike geleentheid om plaaslike kunstenaars te ontmoet en te sien hoe die kunsindustrie werk.

Baie van my vriende het na kuns iets anders gaan doen. Jy kan binne die kreatiewe veld werk (as illustreerde, grafiese ontwerper, webdesigner, interior designer, fotograaf ens), maar daar is ook ‘n aanvraag na kunstenaars op terreine soos besigheid, innovasie, IT, opvoedkunde en toerisme.

Kuns is vir my soveel meer as net ‘n vaardigheid. Dit is ‘n manier van dink en leef wat jou help om potensiaal raak te sien waar ander mense jare lank in dieselfde groewe vassit. Ek glo regtig as mens passievol en geduldig genoeg is sal daar altyd geleenthede wees.

 

Ydi Coetsee is a young practicing artist who recently graduated from the University of Stellenbosch with a Master of Arts (Fine Art).
Her artworks reflect the thoughtful process of creating a painting described best in her own words: “When I paint landscape, I like to re-enact the feeling of ‘being there’, of movement, dynamism, being aware of small geographic particularities. Sometimes a landscape presents itself to you as solemn and grand, sometimes as playful, sometimes sad… In both my landscape and interior paintings I seek to discover and explore the ‘nature of reality’; the act of painting becomes an imaginative and intensified expression of the physical world, as the lines between the spiritual and physical start to collapse.”

Learn more about Ydi’s career on http://www.ydicoetsee.com/.